Gisteraand was die bekendstelling van Tex de
Swardt se boek "Die helmet is 'n dubbeldoor" en 'n rekord hoeveelheid
boeke is verkoop nadat Tex ons vermaak het met genotlike vertellings uit
stories in sy boek. Veels geluk Tex en dankie ook aan Pieter Hurter vir sy mees gepaste bekendstellingstoespraak waaruit ek die volgende aanhaal:
"Ons leef in die era van die massa: massamens, massawinkels (dis nie
meer supermarkte nie, maar hipermarkte) en massakommunikasie. Alles is
meer en groter, hoewel nie noodwendig beter nie. Ten hierdie agtergrond
het 'n P van Wyk Louw reeds sewentig jaar gelede gepraat van die
aristokratiese ideaal. Dit is die geloof aan ewige goedere, die
verantwoordelikheid teenoor 'n mens self en die handhawing van waardes,
onafhanklik van die goed of afkeuring daarvan. Slegs as ons hierdie
beginsels najaag, kan daar sin in ons bestaan wees en is daar erfgoedere
om vir die nageslag deur te gee. Ons is dit aan ons nageslag verskuldig
om ook geestesgoedere as erfgoedere na te laat.
Dit is waar
Tex se boekie ook as 'n stukkie erfgoed en kultuurgoed sy plek in ons
volksliteratuur verdien. Dit is nie maar net 'n versameling herinneringe
wat in storie-vorm geboekstaaf is nie, dit is vertellings uit die hart.
Die is nie ligsinnige sentiment nie, maar plek-plek spreek die
universele mens tot ons. Dan is dit meer as vertellings, dit word
kultuurgoed wat ons kan deurgee en sê: 'so het ons geslag en die vorige
geslag geleef'."
Op die foto is Tex de Swardt en sy vrou, Luna by dié gesellige geleentheid.
Erfenis Publikasies / Heritage Publications
Self-publication / Selfpublikasie
Wednesday, 19 December 2012
Thursday, 6 December 2012
"Die helmet is 'n dubbeldoor en ander sketse" deur Tex de Swardt
Uitleg deur Stella Stofberg |
Tex de Swart se langverwagte "Die helmet is 'n
dubbeldoor en ander sketse" is nou beskikbaar!
Tex toon met hierdie debuutbundel dat hy in
sy eie woorde “net maar ’n strorieverteller is wat op aandrang van sy vriende,
familie en kinders sy stories begin opskryf het”.
Die bundel is ’n collage van lekkerlees
stories vol nostalgie en emmersvol humor. Stories so uiteenlopend soos Tex se luisteraars om
die vuur of om die tafel na ete. Plaasstories, liegstories, skoolstories en ook
stories vol weemoed wat die leser sal terugvoer na eie onthoutye.
Die sketse loop ’n lang pad vanaf Muiskraal
met sy unieke mense: oom Pieter met sy patathoop, oom Strydom die perdesmous,
die Nat-mense en die Sappe, en die periodieke konfrontasies met die “pilots”
van Sy Majesteit wat gedurende die tweede wêreldoorlog gereeld oor Muiskraal
gevlieg het. Ons leer Mias Boks, sy vriend Knappie, oom Frikkie Rust en meneer
Jooste met hulle eienaardighede ken, en met die byvoeg van Koos Meyer vertel hy
van hierdie karakter se streke waarvan tot nou toe nog nie gehoor is nie.
Hierdie
is ’n bundel vertelstories wat baie aande kort gemaak het, en waarvan Kerneels
Breytenbach gesê het: “Tex
skryf soos hy praat.”
Bestel “Die helmet is ’n dubbeldoor
en ander sketse” by tex@hermanus.co.za
Subscribe to:
Posts (Atom)