WANNEER TYD VLIEG
Nic Botha
Hierdie boek is tydens die eerste Covid 19-inperking in 2020 geskryf. Die verwerking en redigering daarvan het tot Julie 2021 geduur.
Ná Nic se afsterwe op 25 April 2021 het die boek dadelik meer betekenis vir my gekry en was ek meer geïnspireerd as ooit om die publikasie daarvan te verwesenlik.
Ek sien Nicci in my geestesoog op sy geliefde stoel in ons sonnige stoepkamer, omring deur al sy skryfbehoeftes en woordeboeke. Hy het ʼn nuwe doel gehad, en hy was só geïnspireer om alles op skrif te kry.
Ons het met geesdrif saam besluit oor watter stories die boek sou haal.
Nic het dit ongelooflik geniet om sy jonger dae, asook die goeie tye in die Lugmag en Lugdiens te herleef. Hy het soggens vroeg opgestaan en ek kon sien hy kon letterlik nie wag om aan die gang te kom nie. Dit het hom soveel vreugde verskaf om sy lewe soos ʼn rolprent voor hom te sien afspeel en dit op papier vas te lê.
Sy geheue het my verstom, gegewe dat soveel van die gebeure in sy twintiger- en dertigerjare afgespeel het. Hy het almal se name, die plekke en die gebeure tot in die fynste besonderheid onthou asof dit gister gebeur het.
Ek is so trots op hom, dat hy die laaste taak van sy lewe so deeglik en met soveel toewyding voltooi het, net soos alles wat hy aangepak het. Hy het alles met die hand geskryf omdat hy nie meer so lank voor die rekenaar kon sit nie.
Hierdie boek gaan verseker dat al sy stories behoue bly vir ons kinders en verdere nageslagte, sodat hulle kan onthou hoe passievol en lewenslustig hul voorvader oor die lewe was.
Nicci, jy sal hiermee vir altyd in ons almal se gedagtes voortlewe. Ons salueer jou, Kaptein … Jy het inderdaad die seile van ons almal se boot gespan.
‒ Tish Botha
Hermanus, Augustus 2021
Selnommer: 0828615427
e-pos: tishbotha@icloud.com
No comments:
Post a Comment