Gisteraand was die bekendstelling van Tex de
Swardt se boek "Die helmet is 'n dubbeldoor" en 'n rekord hoeveelheid
boeke is verkoop nadat Tex ons vermaak het met genotlike vertellings uit
stories in sy boek. Veels geluk Tex en dankie ook aan Pieter Hurter vir sy mees gepaste bekendstellingstoespraak waaruit ek die volgende aanhaal:
"Ons leef in die era van die massa: massamens, massawinkels (dis nie
meer supermarkte nie, maar hipermarkte) en massakommunikasie. Alles is
meer en groter, hoewel nie noodwendig beter nie. Ten hierdie agtergrond
het 'n P van Wyk Louw reeds sewentig jaar gelede gepraat van die
aristokratiese ideaal. Dit is die geloof aan ewige goedere, die
verantwoordelikheid teenoor 'n mens self en die handhawing van waardes,
onafhanklik van die goed of afkeuring daarvan. Slegs as ons hierdie
beginsels najaag, kan daar sin in ons bestaan wees en is daar erfgoedere
om vir die nageslag deur te gee. Ons is dit aan ons nageslag verskuldig
om ook geestesgoedere as erfgoedere na te laat.
Dit is waar
Tex se boekie ook as 'n stukkie erfgoed en kultuurgoed sy plek in ons
volksliteratuur verdien. Dit is nie maar net 'n versameling herinneringe
wat in storie-vorm geboekstaaf is nie, dit is vertellings uit die hart.
Die is nie ligsinnige sentiment nie, maar plek-plek spreek die
universele mens tot ons. Dan is dit meer as vertellings, dit word
kultuurgoed wat ons kan deurgee en sê: 'so het ons geslag en die vorige
geslag geleef'."
Op die foto is Tex de Swardt en sy vrou, Luna by dié gesellige geleentheid.
Erfenis Publikasies / Heritage Publications
Self-publication / Selfpublikasie
Wednesday, 19 December 2012
Thursday, 6 December 2012
"Die helmet is 'n dubbeldoor en ander sketse" deur Tex de Swardt
Uitleg deur Stella Stofberg |
Tex de Swart se langverwagte "Die helmet is 'n
dubbeldoor en ander sketse" is nou beskikbaar!
Tex toon met hierdie debuutbundel dat hy in
sy eie woorde “net maar ’n strorieverteller is wat op aandrang van sy vriende,
familie en kinders sy stories begin opskryf het”.
Die bundel is ’n collage van lekkerlees
stories vol nostalgie en emmersvol humor. Stories so uiteenlopend soos Tex se luisteraars om
die vuur of om die tafel na ete. Plaasstories, liegstories, skoolstories en ook
stories vol weemoed wat die leser sal terugvoer na eie onthoutye.
Die sketse loop ’n lang pad vanaf Muiskraal
met sy unieke mense: oom Pieter met sy patathoop, oom Strydom die perdesmous,
die Nat-mense en die Sappe, en die periodieke konfrontasies met die “pilots”
van Sy Majesteit wat gedurende die tweede wêreldoorlog gereeld oor Muiskraal
gevlieg het. Ons leer Mias Boks, sy vriend Knappie, oom Frikkie Rust en meneer
Jooste met hulle eienaardighede ken, en met die byvoeg van Koos Meyer vertel hy
van hierdie karakter se streke waarvan tot nou toe nog nie gehoor is nie.
Hierdie
is ’n bundel vertelstories wat baie aande kort gemaak het, en waarvan Kerneels
Breytenbach gesê het: “Tex
skryf soos hy praat.”
Bestel “Die helmet is ’n dubbeldoor
en ander sketse” by tex@hermanus.co.za
Saturday, 27 October 2012
"Vir Volk en Vaderland" deur M.C. Botha
Hierdie is M.C. Botha se 13de boek en hy het besluit om dit ’n gelukkige een te maak, met ander woorde ’n boek waarin die klem eerstens op vermaak val en die aanslag eerder lig as swaar is. Hou die wroeginge van hart, siel en gees vir ’n ander dag.
Nou gaan ons eers feesvier. Soos die Baardskeerdersbosorkes
uitroep: “Gooi los!”
Bestel “Vir Volk en Vaderland” by info@mcbotha.com
"Gesalms van Dawid" deur Dawie Vorster
Omslagontwerp en uitleg deur Stella Stofberg
Dr. Dawie Vorster was in sy
vorige lewe 'n skoolhoof in Durban.
Hy is tans afgetree en woon in Onrusrivier, naby Hermanus. Hy hou hom besig met
die versameling van penne, (waarvan daar 392 teen die muur vertoon word) en die skryf van
limerieke en liedjies. Daar het
reeds ses skoolliede uit sy pen verskyn en hulle word steeds met trots gesing.
Bestel Dawie se luimige limerieke "Gesalms van Dawid" by idlid@telkomsa.net
"Bethesda kronieke en ander anekdotes" deur Victor Dercksen
Omslagontwerp en uitleg deur Stella Stofberg |
Victor Dercksen is ’n boorling van die Karoo, waaroor hy
passievol is. Hy matrikuleer aan die Fraserburg Hoërskool, waarna hy
prokureursklerk word – eers in Fraserburg, daarna in Kaapstad. Terselfdertyd
voltooi hy die voorgeskrewe prokureurseksamens. Hy voltooi sy regstudies aan
die universiteite van Stellenbosch en Oranje Vrystaat.
Belangstelling in politiek en
geskiedenis het gelei tot ’n meestersgraad in Afrika-politiek, deur Unisa, en
'n doktoraal in Staatsleer aan die universiteit van Port Elizabeth. Victor
Dercksen was deurentyd deeltydse veeboer en boer voltyds sedert hy uitgetree
het as praktiserende prokureur. Met die bereiking van die mylpaal van 50 jaar
in die beroep het hy ’n toekenning van die Kaapse Prokureursorde ontvang vir
organisatoriese bydrae tot die professie.
Hy het ’n ongeneeslike rustelose,
ondersoekende lewensstyl en ’n onversadigbare leeslus.
Victor Dercksen is getroud, hy
het 4 kinders en 7 kleinkinders.
Bestel “Nieu Bethesda en ander anekdotes” by drvdercksen@gmail.com
"Woordkarosse" deur Hetta Hager
Woordkarosse deur Hetta Hager
Hetta Hager is gebore en het
grootgeword langs die Oranjerivier, naby Kakamas. Met Woordkarosse deel
sy die diepgekoesterde liefde vir haar grootwordwêreld en vir die beeldryke
Afrikaans van die Benede-Oranje en Griekwaland-Wes, waar sy nou woon. Hierdie
oud-joernalis, -onderwyser en -museumkurator is steeds skrywer en dialektoloog.
In Woordkarosse betower
Hetta Hager met die suiwer poësie van haar “annerlike Afrikaans”. Van die
dialek waarin sy skryf, het Fonnie du Plooy gesê: “Dis soos ‘n nuwe taal,” en
Johan Combrink: “Dis ‘n skatryk juweelkleim vol nuwe blink Afrikaanse
taalklippies.”
Lees gedigte uit Woordkarosse
by http://www.woordpaljas.co.za/page/gasskrywer-hetta-hager
Bestel Woordkarosse by Hetta
Hager – 27822194179@vodamail.co.za
Subscribe to:
Posts (Atom)